Sunday, June 6, 2010

Partytjie en Nefies van die Paarl

Hallo julle Almal!

Ek het mos belowe dat my Mamma en Pappa gouer weer sal tik as die vorige keer - so hoe is dit om sommer 'n week later weer van my te hoor?!

Ek is nog steeds nie te lekker na die mangelontsteking nie ... My Pappa was die naweek weg met 'n konfe-konfe-konfe-wat-nou-weer? O ja, Konferensie! So ek het besluit ek klou die heeltyd aan my Mamma! Sy kon skaars gaan pie-pie het, want ek het die heeltyd geskreeu as sy my neersit. Maar dis mos oor ek nog nie te lekker voel nie!

Ek het gister 'n verskriklik lekker verjaarsdagpartytjie van 'n maatjie, Wiaan, bygewoon. Alles het soos 'n konstruksieplek gelyk - net geel Cat-trokke en goeters waar jy kyk! Dit was baie,baie lekker. Ek het ook vir die eerste keer in my lewe geverf, maar ek het meer met die afspoelwatertjies gespeel as met die verf. My Mamma sukkel nou nog om verf van my kopvel af gewas te kry!

Toe ons by die huis kom, was ek baie moeg en wou weer net aan my Mamma klou ... Sy kon weer niks anders doen nie. Maar toe kry ek 'n verrassing!!!! Tannie Karin, Oom Floris en my twee nefietjies van die Paarl - Dawie en Gerrit - het kom kuier! Ek het my nefies nou vir die eerste keer gesien en ek moet se: hulle is oulike maatjies met BAIE mooi maniere! Ek is so spyt hulle het net een aandjie hier geslaap (hulle gaan nou wildtuin toe), want ek weet ons 3 sal sommer lekker saamjol!

Vanoggend by die Kerk was ek weer verskriklik besig. My Mamma moes op die ou end die heeltyd buite staan sodat ek bietjie kan rondhardloop - ek kan mos nog nie so lank stilsit nie. (Om die waarheid te se: ek kan nooit vir langer as 15 sekondes stilsit nie ...) Gelukkig is daar luidsprekers buite ons Kerk se voorportaal, so my Mamma kon darem na die preek luister. Ons Kerk het 'n klomp groot vlae in die plek waar mens inkom (Mamma se dis die voorportaal). Dis blykbaar vir die sokker wat Vrydag begin! Ek kan nie wag daarvoor nie! My 1 "ouma" in Gauteng, Ouma Henda, het vir my gister by die partytjie 'n baie mooi sokkerbal gegee met 'n klompie landsvlae op - nou is ek reg vir hierdie sokker-ding!

My ander Gauteng-"ouma", Duitse ouma Helga, het Vrydag verjaar en ons het nog gou daar gaan geluk se. Sy bring graag vir my boekies as sy vir my kom kuier (of diertjies) en ek is mal daaroor!

Nou ja, ek gaan nou eers groet vir julle almal. Julle moet 'n heerlike week he en ook so opgewonde wees oor die sokker wat begin! Ek dink ek gaan die volgende Pele wees noudat ek so lekker kan oefen met my 3 sokkerballe!

Baie liefies vir julle almal!
Francois
xxxxxxx