Hallo Almal
Hierdie keer was my Mamma en Pappa rerig baie sleg om so lanklaas iets te tik namens my! Ek het omtrent elke aand vir hulle gevra om ietsie te skryf, maar hulle is kamstig besig die heeltyd!
Dit gaan goed met my, behalwe dat ek aaklige mangelontsteking het! Ek is al vir 2 wekies siek en gooi heeltyd op (dan dink hulle dis my toe neusie in die nag), maar al die tyd is dit my mangels wat so vreeslik siek is ... Die tannie Paediater het Vrydag gelukkig vir my 'n klompie medisyne voorgeskryf; ek het eers alles uitgespoeg, want dis sleg en my keeltjie is te seer om rerig te sluk, maar dit gaan vandag sommer baie beter!
Ons het gister by my Nieu-Zeelandse maats gaan rugby kyk: Blou bulle teen Stormers. Ek is natuurlik 'n Stormer, maar soos julle seker weet het ons dit toe nie gemaak nie...
Ek sny my 4 oogtande almal gelyk en dis bitter baie seer! Ek wens die tande wil nou klaarkry, want my Mamma en Pappa vergeet om tandekry-goed aan te smeer! Ek roep ook nog steeds net my Mamma (ek's bietjie lui om Pappa te se!)
Ek het die laaste maand geleer om op 'n springkasteel te spring en dis heerlik! My Mamma moet my elke naweek na coffee shops neem waar vir kinders springkastele en swaaie en al sulke lekker goeters is!
Ek slaap ook weer deesdae styf tussen Mamma en Pappa. Dis maar net oor ek nie lekker voel nie dat ek nie alleen wil slapies nie...
My Ouma Essie was in die hospitaal in Oudtshoorn en in Mosselbaai (dis waar die see is). Haar hart is moeg/seer en hulle moes weer 'n stent insit. Ek bid elke dag vir haar dat sy net beter moet voel en sommer gou heeltemal gesond sal wees!
My oom Hein en tannie Ashley kom kuier amper vir ons saam Lindsey! Ek kan nie wag nie. Hulle kom bietjie Gauteng toe wanneer die Sokker is! My niggie is nou al in die Hoerskool en het verlede week klaargemaak met eksamen. Ek hoor ek sal ook eendag moet eksamens skryf ... en ek dink nie dis die lekkerste ding vir seuntjies om te doen nie. Ek sal baie eerder wil rondhardloop en net speel heeldag!
Verlede naweek het ek by my ekstra ouma Judy en oupa Collin 'n groot resieskar en quadbike (met remotes) present gekry! Dis so cool - ek kan nie wag dat ek groot genoeg is om daarmee te speel nie! Hulle het ook vir my 'n konstruksiespeelding gegee met 50 goeters saam - dis sementlorries, hyskrane, trokke en alles waarvan seuntjies hou!
Ek belowe ek sal seker maak my Mamma en Pappa skryf gouer as wat dit hierdie keer geneem het! Ek is baie liefies vir julle almal en is mal daaroor as julle vir my terugskryf!
Lekker week en baie liefde
Francois
xxxxxxx
Subscribe to:
Post Comments (Atom)
No comments:
Post a Comment