Thursday, July 22, 2010

Nuwe Foto's!!








Hi julle Almal
Ek raak groot, ne?

Liefies vir julle!
Francois
xxxxxxx

Monday, July 19, 2010

Fotosessie!!

Hallo Almal

Net 'n vinnige hallo aan julle almal! My pappa het nog steeds nie die foto's van my en Lindsey gelaai nie - 'skuus, ek dink sy hand is nog baie seer ...

Ons was Saterdag weer by die tannie Fotograaf, tannie Berdien. Ek het so lekker rondgehardloop en speel met al die anderster goedjies by haar studio, dat ek dink sy moes sukkel om 'n foto of 2 in te kry - ek is mos 'n vinnige, ratse outjie! En ek sit nie stil vir 10 sekondes nie ... Pappa sal van daardie foto's ook moet opsit sodra hulle dit kry. Ek is seker ek is 'n model teen hierdie tyd!

My hare is verlede Donderdag laat sny, maar sjoe, dis nou nie 'n lekker episode nie. Daai klomp mooi meisies flirt met my, toe flirt ek lekker terug en hulle "oe" en "aa" net oor hoe cute ek is. Toe Charlene (dis nou die haarkapper) haar sker naby my bring, toe begin ek gil soos in die flieks!!! My gesig was bloedrooi en my hare sopnat gesweet, maar sy hou aan om te probeer hare sny! My mamma het my die heeltyd vasgedruk (en sy was vol blonde hare na die tyd), maar ek ruk en pluk my kop, hoor? Nou sit ek met korter hare, maar 'n hele hoop happe daarby! Ek hoop maar my tannie Ingrid kom gou kuier, want ek laat net vir haar my hare sny, ek weet nie hoekom my Mamma my hare juis nou wou korter he nie ... (foto's, my kind, foto's)

My Pappa en Mamma het my gister in die Kerk weer na die klomp ander peuters gevat, maar dis nie vir my lekker nie. Hulle wil heeltyd my speelgoed he, so dan vat ek dit maar net terug en skree so bietjie saam. Toe moet my Pappa my maar weer kom haal. Ek hou van in die groot kerk sit - ek kyk na almal en loop bietjie rond EN DANS wanneer die musiek speel!

Ons het nuwe bure wat van Duitsland af kom. Ek dink ek is baie gelukkig, want hulle het verlede week 'n tweeling gekry - 2 dogtertjies!!! Nou sal ek sowaar kan"pick-and-choose" watter een die mooiste is en dalk eendag my matriekafskeid-date is! Hulle praat blykbaar 'n ander taal wanneer hulle eendag kan praat. Hulle name is Eva en Victoria. Ek wens hulle wil gou grootword, sodat ons lekker kan jol!

Dis lekker koud in Gauteng - laasnag was dit weer 0 grade! Maar ons dae is pragtig - lekker sonskyn! Ek het gistermiddag heerlik in my sandput gespeel in die sonnetjie. Ek hoop maar my klomp maatjies/nefies/niggies in die Kaap is nie te koud en nat hierdie winter nie!

Ek gaan nou eers vir julle groet. Pas julleself mooi op en skryf asseblief vir my!

Liefdetjies,
Francois
xxxxxxx

Monday, July 12, 2010

Lang Sokkervakansie verby ...

Hallo Almal!

Ek sien my Pappa het 'n paar foto's gelaai. Hy sal nog foto's moet opsit, want my niggie, Lindsey, en oom Hein en tannie Ash het by ons gekuier! Dit was verskriklik baie lekker! Ek mis hulle nou vreeslik, want dis so lekker om 'n maatjie die heeltyd hier te he wat met my kan speel!

Oom Hein-hulle was laaaaank by ons (tussen-in was hulle vir 'n paar dae na Mpumalanga en die Wildtuin ook). Ons het sowaar ook na 'n groooooot geboue gegaan met BAIE trappies - die Voortrekkermonument. Dan was ons ook by 'n leeupark en wildrit, Bruma en nog baie ander plekke ook! Ek mis hulle rerig. Tannie Ash het my een Saterdag opgepas sodat my Mamma en Pappa kon gaan golf speel! Ek wens hulle het naby ons gewoon, sodat ek meer met Lindsey kon speel ...

My Pappa het verlede Woensdag 'n operasie gehad. Ek vra sommer gou vir Mamma die woord, want dis moeilik: Karpale Tonnel sindroom. Hulle het sy linkerhand gesny en nou kan hy nie help om my doeke om te ruil nie (of so se hy ...) Sy hande/arms het sommer net lam geraak na naalde en spelde - nou moet hy nog oor 'n ruk gaan vir sy regterhand ook!! Foeitog, hy is so besig by sy werk, dat hy nie eers die siekverlof kan gebruik nie. Hy gaan alweer more weg met 'n vergadering tot Donderdag! Ek dink hy gebruik sy hand wat met pleisters en verbande toegedraai is heeltemal te veel! My Mamma raas met hom, maar hy se: wie anders gaan kos maak as hy dit nie doen nie? (My Mamma is mos niks lief vir kos maak nie ... Sy hou van sjokolade en chippies, maar kook?)

My ander oom, Hercules, het gister met ons ge-skype! Ek het hom laas na my verjaarsdag in Januarie gesien. Hy woon in Engeland. Gelukkig kan ek nou weer onthou hoe hy lyk! Hy gaan seker vir my mooi goetertjies uit Engeland eendag saambring! (Ek hoop hy lees nog my Blog gereeld ...)

Dis baie koud nou weer by ons. Mamma se dit het gesneeu erens. Ek weet dit het al by Ouma en Oupa Coetzee 'n paar keer gesneeu vanjaar - Lindsey het vir my foto's gewys waar hulle almal 'n sneeuman gebou het! Dit lyk na vet pret, maar ek dink dis bibberkoud ...

Ek gaan eers vir julle groet! Dit moet goed gaan met julle! Ek sal beslis vir Pappa vra om 'n foto of 2 nog op te laai!

Baie liefdetjies
Francois
xxxxxxx

Friday, July 2, 2010