Monday, July 19, 2010

Fotosessie!!

Hallo Almal

Net 'n vinnige hallo aan julle almal! My pappa het nog steeds nie die foto's van my en Lindsey gelaai nie - 'skuus, ek dink sy hand is nog baie seer ...

Ons was Saterdag weer by die tannie Fotograaf, tannie Berdien. Ek het so lekker rondgehardloop en speel met al die anderster goedjies by haar studio, dat ek dink sy moes sukkel om 'n foto of 2 in te kry - ek is mos 'n vinnige, ratse outjie! En ek sit nie stil vir 10 sekondes nie ... Pappa sal van daardie foto's ook moet opsit sodra hulle dit kry. Ek is seker ek is 'n model teen hierdie tyd!

My hare is verlede Donderdag laat sny, maar sjoe, dis nou nie 'n lekker episode nie. Daai klomp mooi meisies flirt met my, toe flirt ek lekker terug en hulle "oe" en "aa" net oor hoe cute ek is. Toe Charlene (dis nou die haarkapper) haar sker naby my bring, toe begin ek gil soos in die flieks!!! My gesig was bloedrooi en my hare sopnat gesweet, maar sy hou aan om te probeer hare sny! My mamma het my die heeltyd vasgedruk (en sy was vol blonde hare na die tyd), maar ek ruk en pluk my kop, hoor? Nou sit ek met korter hare, maar 'n hele hoop happe daarby! Ek hoop maar my tannie Ingrid kom gou kuier, want ek laat net vir haar my hare sny, ek weet nie hoekom my Mamma my hare juis nou wou korter he nie ... (foto's, my kind, foto's)

My Pappa en Mamma het my gister in die Kerk weer na die klomp ander peuters gevat, maar dis nie vir my lekker nie. Hulle wil heeltyd my speelgoed he, so dan vat ek dit maar net terug en skree so bietjie saam. Toe moet my Pappa my maar weer kom haal. Ek hou van in die groot kerk sit - ek kyk na almal en loop bietjie rond EN DANS wanneer die musiek speel!

Ons het nuwe bure wat van Duitsland af kom. Ek dink ek is baie gelukkig, want hulle het verlede week 'n tweeling gekry - 2 dogtertjies!!! Nou sal ek sowaar kan"pick-and-choose" watter een die mooiste is en dalk eendag my matriekafskeid-date is! Hulle praat blykbaar 'n ander taal wanneer hulle eendag kan praat. Hulle name is Eva en Victoria. Ek wens hulle wil gou grootword, sodat ons lekker kan jol!

Dis lekker koud in Gauteng - laasnag was dit weer 0 grade! Maar ons dae is pragtig - lekker sonskyn! Ek het gistermiddag heerlik in my sandput gespeel in die sonnetjie. Ek hoop maar my klomp maatjies/nefies/niggies in die Kaap is nie te koud en nat hierdie winter nie!

Ek gaan nou eers vir julle groet. Pas julleself mooi op en skryf asseblief vir my!

Liefdetjies,
Francois
xxxxxxx

No comments: